OORSESE INKOMSTE SÓ BELAS

Dis moeilik om te bepaal of die veelbesproke ekspat-belasting verlede jaar ’n groot impak gehad het op Suid-Afrikaners se besluit om oorsee te gaan werk – of wáár.

Die nuwe belastingregulasies is in werking gestel net toe die Covid-19-pandemie toegeslaan het, wat oorsese werk, nes oorsese vakansies, in 2020 bemoeilik het.

Nietemin, ’n jaar sedert dit nie meer ’n belastingvrye bestemming is nie, het die Verenigde Arabiese Emirate (VAE), wat Dubai insluit, eintlik effens gewilder geword as voorkeur-bestemming vir Suid-Afrikaners wat oorsee wil gaan werk. Dit was in 2020 die sesde gewildste keuse, teenoor sewende in 2018.

Al die lande bo die VAE is lande waar Suid-Afrikaners in elk geval belasting sou betaal, soos Amerika, Brittanje en Australië, hoewel waarskynlik teen ’n laer persentasie. Volgens die nuwe regulasies moet hulle nou die verskil in belastingkoerse aan Suid-Afrika se Jan Taks oordra.

Die ranglys kom uit ’n peiling oor of mense oorsee sal gaan werk en, indien wel, waar, wat Donderdag deur die konsultantefirma BCG uitgereik is.

Dit weerspieël dus gewilligheid, en nie die werklike syfers van mense wat oorsee gaan werk het nie.

Vanaf 1 Maart 2020 word mense wat minstens 183 dae (sien nota hieronder) oorsee werk, maar nie geëmigreer het nie, in Suid-Afrika belas vir hul oorsese inkomste. Hulle betaal net die verskil tussen belasting wat oorsee betaal is en wat hulle in Suid-Afrika op daardie inkomste sou betaal het. Die eerste R1,25 miljoen se inkomste is wel belastingvry.

Iemand wat in die VAE gaan werk, sou vantevore geen belasting in Suid-Afrika betaal het nie, maar sou in 2020 tot 45% belasting moes betaal vir inkomste bo R1,5 miljoen per jaar (dis vir die belastingjaar tot einde Februarie 2020), nadat die vergunning van R1,25 miljoen afgetrek is. (Die bedrag vir die topbelastingkoers is pas verhoog tot meer as R1 656 600, vir die belastingjaar wat op 1 Maart 2021 begin het.)

Aneria Bouwer, vennoot by die regsfirma Bowmans, sê mense wat oorsee wil gaan werk, kon op verskillende maniere op die ekspat-belasting gereageer het. Eerstens sou dit emigrasie dalk aangemoedig het, pleks daarvan dat mense net vir ’n jaar of twee oorsee gaan werk. “Dis baie sleg vir Suid-Afrika, nie net vir die belasting wat verlore gaan nie, maar ook vir die verlies aan geld wat die belastingbetaler andersins in Suid-Afrika sou bestee het (byvoorbeeld as hulle met vakansies huis toe kom, en hul huis en selfs gesin hier onderhou).”

Jonty Leon en Jean du Toit, advokate van Tax Consulting SA, het in Februarie 2020 gesê die opheffing van die belastingvergunning was die laaste strooi wat honderde mense wat oorsee werk, oorreed het om finaal te emigreer.

Sharon Machutchon, ’n belastingkonsultant by Mazars, het beaam daar was ’n “vlaag” mense wat in die buiteland werk wat wou emigreer voor 1 Maart 2020.

Bouwer meen as iemand kan kies tussen twee poste met soortgelyke betaling, sou hulle dalk in die afwesigheid van belastingverligting eerder in Suid-Afrika bly, maar veel groter salarisse is juis waarom baie mense oorsee gaan werk. “Ek sou verbaas wees as baie belastingbetalers ’n soortgelyke posisie vir soortgelyke vergoeding in Suid-Afrika kon kry.”

Topbelastingkoerse

As jy vanjaar R1 656 601 of meer verdien, betaal jy in Suid-Afrika 45% belasting op die bedrag bo R1 656 600.

Gegrond op vandag se wisselkoers, lyk die topbelastingkoerse wat iemand met daardie selfde salaris vanjaar in Amerika, Brittanje en Australië sou betaal, as volg:

  • Brittanje: 40% of 45%. Die topkoers is vir mense wat meer as nagenoeg R3,2 miljoen verdien.
  • VSA: 24% tot 37%. Die topkoers is vir mense wat meer as R7,9 miljoen verdien.
  • Australië: 37% tot 45%. Die topkoers is vir mense wat meer as R10,2 miljoen verdien.

Bron: Die Burger